'n Skool vir Christelike, Volkseie Onderwys
Volkskool Brakpan
Waardestelsel
 
1.    Christelik-Calvinisties-Protestantse aard en karakter wat die primêre opvoedingsgesag en verantwoordelikheid van verbondsouers erken.
2.    Afrikaner-Volkseie skoolgemeenskap met moedertaalonderrig in Afrikaans.
3.    Uitnemendheid as doelwit in onderrig en buitemuurse aktiwiteite wat elke kind se toekomspotensiaal optimaal ontwikkel.
4.    Vertroue in, en respek vir, personeel, ouers en leerlinge met die handhawing van integriteit en selfbeheersing.
5.    Koste-effektiewe diens wat ingestel is op kliënt-tevredenheid.
6.    Handhawing van orde en dissipline in erkenning van gesag.
 
Toelating en keuring
 
Die skool is opgerig vir die kinders van verbondsouers van die Afrikanervolk wat die Drie Formuliere van Eenheid (Heidelbergse Kategismus, Dortse Leerreëls, Nederlandse Geloofsbeleidenis)  as beleidenisskrifte aanvaar.
 
Toelating van leerlinge wie se ouers se Godsdiensaffiliteit buite die gegewe beleidenisskrifte setel word wel oorweeg, en indien goedgekeur, moet sulke ouers ‘n skriftelike ooreenkoms met die Opvoedingsraad aangaan wat bepaal dat hulle onderrig in Bybelonderrig en ander skoolvakke binne die voorgeskrewe beleidenisskrifte aanvaar, en dat hulle aanvaar dat hulle nie verkiesbaar is op die Opvoedingsraad van die skool of enige Raad van die BCVO nie.
 
Voornemende leerlinge vanaf Graad 4 tot Graad 10 moet, nadat die skriftelike aansoek om toelating deur die skool ontvang is, ‘n skriftelike toelatingstoets aflê. Hierdie uitslae word aan die Sekretaresse van die Opvoedingsraad gegee vir handeling. ‘n Keuringskomitee van die Opvoedingsraad voer dan ‘n onderhoud met die voornemende ouers waartydens onduidelikhede opgeklaar word en mandate verduidelik word. Die keuringskomitee mag enige verslag wat hulle nodig ag van die ouers versoek. Na oorweging neem die Keuringskomitee ‘n besluit t.o.v. toelating en lê dit aan die Opvoedingsraad voor vir kondonering of terugverwysing.
 
Alle leerlinge in die skool moet jaarliks in Oktober heraansoek doen vir toelating in die volgende jaar.
 
Skoolfooie
 
Skoolfooie is maandeliks vooruitbetaalbaar vanaf Januarie tot November. Skoolfooie moet maandeliks voor die sewende van die maand betaal wees. Aktiwiteite waarvoor addisionele koste betaalbaar is, bv. sportregistrasie by byeenkomste, Graad 12-eksamenfooie, bywoning van skoolkampe, ensovoorts, word, nadat die ouers die betrokke skeurstrokies geteken het, op die leerling se skoolfondsrekening gelaai vir betaling deur die ouers.
 
Daar word ‘n jaarlikse verbruikersfooi vereis, betaalbaar met skoolopening in Januarie, waarvoor die leerlinge alle handboeke, aantekeninge en skryfboeke wat hulle gedurende die jaar nodig het ontvang. Ouers is egter verantwoordelik vir die aankoop van enkele addisionele skryfboeke soos sekere vakke mag vereis. Persoonlike skryfbehoeftes, skooldrag soos voorgeskryf, en sportdrag soos voorgeskryf, moet deur ouers self aangekoop word.
 
Die Opvoedingsraad kan in verdienstelike gevalle skoolfooie van individuele leerlinge verminder, of subsidies wat aan die skool betaal word daarvoor allokeer.
 
Tans is die skoolfooie: (April 2009 tot Maart 2010)
Graad 000-0:              R550,00 per maand vir elf maande. (R6050,00 per jaar)
Graad 1-7:                  R700,00 per maand vir elf maande. (R7700,00 per jaar)
Graad 8-12:                R820,00 per maand vir elf maande. (R9020,00 per jaar)
 
Die verbruikersfooi beloop: (April 2009 tot Maart 2010)
Graad 000-0:              R500,00 eenmalig
Graad 1-7:                  R600,00 eenmalig
Graad 8-12:                R700,00 eenmalig
 
Wanneer nuwe leerlinge in die skool inskryf maak ouers vir elke leerling ‘n verpligte belegging van R500,00 in die skool se Beleggingstrust. Hierdie belegging word deur Trustees bestuur wat aangewys word tydens ‘n Ouervergadering en bestaan uit lede van die Opvoedingsraad en ouers. Die Trustrekening word apart van die skool se rekening bedryf. Hierdie belegging word met rente, bereken teen heersende koerse soos wat die Trust by die betrokke handelsbank verdien, aan ‘n ouer terugbetaal wanneer ‘n leerling die skool verlaat.
 
Die skool het ook ‘n Hulpfonds met die doel om behoeftige Afrikaner-leerlinge in die skool finansieel te ondersteun. Bydraes in die hulpfonds is vrywillig en die fonds word deur die Opvoedingsraad bestuur.
 
Skoolorganisasie en –bestuur
 
Die skool word as ‘n geregisteerde Artikel 21-maatskappy, sonder winsbejag, bestuur. Die Opvoedingsraad, wat die Direksie van die skool vorm, word twee-jaarliks deur die ouers verkies en bestuur die skool se beleidsake in samewerking met die beheerpersoneel en ouergemeenskap. Die skoolhoof en adjunk-hoof dien ex officio op die Direksie van die skool en bestuur saam met die beheerpersoneel die daaglikse bedryfsake van die skool.
 
Aangesien die regering van ons dag nie ‘n Christelike grondslag het nie en  onderwys gebruik om vreemde ideologië aan kinders op te dring, wat al deur ‘n groot deel van die bevolking as vanselfsprekend aanvaar word, kan die onderwys wat die regering bied u kind se ervaring van menswees, asook sy belewing van die waarheid dat verskillende bevolkingsgroepe eiewaarde moet kweek by hul jeug, heeltemal verwring. Die onlangse geskiedenis het dan ook bewys dat onderwys, met enkele uitsonderings, in ons land se staatskole op ‘n baie lae peil aangebied word en dat ons leerlinge in staatskole se prestasies swak vergelyk met dié van ander opkomende lande. Die slaagsyfer van BCVO-lidskole in die 2009 Graad 12-eindeksamen was dan ook 99,3%, teenoor die sowat 61% van staatskole. Dit bewys die verskil in kwaliteit-onderrig.
 
Die Beweging van Christelike-Volkseie Skole (BCVO) is ‘n verlengstuk van die gereformeerde ouerhuis. As lidskool van die BCVO is Volkskool Brakpan dus ononderhandelbaar gerig op die handhawing van Christelike, opvoedkundig bewese en gebalanseerde onderrig aan u kind. Ons verkondig nie net vir bemarkingsdoeleindes dat ons steeds vanuit ‘n Christelike benadering ons leerlinge onderrig, terwyl ons dit in werklikheid nie mag doen nie, ons onderhandel nie eers met enige persoon die werklike toepassings daarvan in ons skool nie. Ons onderrigtaal, Afrikaans, word nie deur staatsinstellings of ander bevolkingsgroepe bedreig nie, aangesien ons onafhanklik, maar ten volle geakkrediteerd, van die staat funksioneer. Ons, Umalusi-geakkrediteerde, matrieksertifikaat is gesog by Universiteite en oud leerlinge vanuit ons skool, asook vanuit ander lidskole binne die BCVO, presteer op Universiteite en ander opleidingsinstansies en vind aanpassing in die tersiêre onderwysmilieu maklik weens hul begrip van hulle eie kultuur en gevestigde waardestelsels.
 
Die verskil in die toekoms van u Godgegewe geskenk en verantwoordelikheid, u kinders, kan nie met geld gekoop of ooit deur ons, as Afrikanermense, versaak of afgeskeep word nie. Lidskole van die BCVO, dus ook Volkskool Brakpan, bied aan u kind die alternatief vir sekulêre, ongedefinieerde en lae intensiteit onderrig. Ons klein klasse, kennis-gedrewe onderrigbenadering en Christelike inslag maak LEER weer die prioriteit tydens onderrigperiodes.
volkskool002009.jpgvolkskool002008.jpg
Tuisblad
Prospektus
EKA
Kontak
Prospektus
Prestasie blad
H/V Colliery & Middelweg, Brakpan
Tel: 011-743 3621 / 3622